LEWENSWETENSKAPPE
Dit is ‘n biologiese vak en behels die studie van lewe (plant- en dierkunde, insluitend anatomie en fisiologie) in ‘n veranderende natuurlike en mensgemaakte omgewing. Lewenswetenskap is ‘n praktiese vak en gereelde prakties werk (mikroskoopwerk, werkkaarte, disseksies) word gedoen. Uitstappies, byvoorbeeld na Maropeng word tydens die studie van evolusie onderneem. Die studie sluit die kritiese vraag, weergee en verstaan van konsepte en prosesse en aanwending in die gemeenskap in. Leerders sal navrae, probleemoplossing, kritiese denke en ander vaardighede ontwikkel en sal dié vaardighede gebruik om Lewenswetenskappe te interpreteer en te gebruik om verskynsels te verduidelik. Hulle sal die kennis in hulle persoonlike lewens as verantwoordelike burgers toepas, om sodoende ‘n gesonde leefstyl aan te kweek en om bronne effektief te bestuur. Deur Lewenswetenskappe te bestudeer, kan die leerders die onderlinge verwantskappe tussen die mens (diere en plante) en die omgewing en die gemeenskap beter verstaan.
Die kurrikulum behels:
- Lewe op molekulêre vlak (selle, weefsel, DNA en proteïensintese)
- Lewensprosesse in plante en diere
- Diversiteit, kontinuïteit en verandering (geskiedenis van die lewe op aarde en evolusie)
- Omgewingstudie en bestuur
Die doel van die bestudering van Lewenswetenskappe:
- Die ontwikkeling van wetenskaplike kennis en begrip
- Die ontwikkeling van wetenskaplike ondersoeke
- Die ontwikkeling van ‘n begrip van die rol van wetenskap in die samelewing
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Enige mediese wetenskappe soos geneeskunde, tandheelkunde, veeartsenykunde, landbouwetenskappe, arbeids- en fisioterapie, optometrie, omgewingsbestuur, natuurbewaring en nog vele meer.
NAVRAE
Departementshoof: Lewenswetenskappe
Tinel van der Walt
tinel.vdwalt@klofies.co.za

