AKADEMIESE BESONDERHEDE

VAKKEUSES GRAAD 10 TOT 12

4. LEWENSORIËNTERING

TOELATINGSVEREISTES

Dit is ‘n vak wat vir die minimum slaagvereistes tel, maar nie vir die toelatingpuntetelling (TPT-telling) nie.

BENADERINGSWYSE

Lewensoriëntering is die studie van die self in verhouding tot andere en tot die samelewing. Hierdie vak behandel die vaardighede, kennis en waardes oor die self, die omgewing, verantwoordelike burgerskap, ‘n gesonde en produktiewe lewe, sosiale betrokkenheid, ontspannings- en fisiese aktiwiteite, loopbane en loopbaankeuses. Dit sluit geleenthede in om betrokke te raak by die ontwikkeling en praktyke van ‘n verskeidenheid lewensvaardighede om probleme op te los, om ingeligte besluite en keuses te maak en om gepaste aksies te neem om betekenisvol en suksesvol in ‘n snelveranderende samelewing te leef. Dit fokus nie net op kennis nie, maar dit beklemtoon ook die belangrikheid van die toepassing van vaardighede en waardes in werklike lewensituasies, deelname aan ‘n fisiese aktiwiteit en inisiatiewe.

KURRIKULUM

Lewensoriëntering is een van die vier fundamentele vakke wat vir die Nasionale Senior Sertifikaat vereis word.

Dit beteken dat dit vir alle leerders in graad 10, 11 en 12 verpligtend is. Dit is ‘n unieke vak wat ‘n holistiese benadering toepas ten opsigte van die persoonlike, maatskaplike, intellektuele, emosionele, geestelike, motoriese en fisiese groei en ontwikkeling van die leerders. Dit moedig die ontwikkeling van ‘n gebalanseerde en selfversekerde leer aan wat ‘n bydrae kan maak tot ‘n regverdige en demokratiese samelewing, ‘n produktiewe ekonomie en verbeterde lewensgehalte vir almal.

Die vak bestaan uit die volgende ses onderwerpe in graad 10 tot 12:

  1. Selfontwikkeling in die samelewing
  2. Sosiale en omgewingsverantwoordelikheid
  3. Demokrasie en menseregte
  4. Loopbaan en loopbaankeuses
  5. Studievaardighede
  6. Liggaamsopvoeding

Die noodsaaklikheid van Lewensoriëntering:
Dié leerarea rus leerders toe om hulle talente te gebruik sodat hulle hul volle potensiaal op verskillende terreine kan ontwikkel. Dit help hulle om vaardighede te ontwikkel om gesonde verhoudings te sluit, om ‘n positiewe bydrae tot hulle gesin, gemeenskap en die samelewing te lewer en om die kernwaardes van die Grondwet van Suid-Afrika te verstaan en uit te leef.

Dit help hulle ook om hulle eie waardestelsel te ontwikkel en groter begrip te kry vir die belangrikheid van die waardes wat hulle eie en ook ander kultuurgroepe in Suid-Afrika koester. Lewensoriëntering rus leerders toe om hulle grondwetlike regte en verantwoordelikhede uit te oefen, om die regte van ander te respekteer en om verdraagsaam te wees teenoor ander in ‘n land van groot kulturele en godsdienstige diversiteit.

NAVRAE

Departementshoof: Lewensoriëntering
Su-Marie Beukes
su-marie.beukes@klofies.co.za

Scroll to Top