Aansoek om toelating vir graad 8-leerders in 2027
Liewe voornemende Klofie-ouer
Om u kind vir graad 8 (2027) by Hoërskool Waterkloof in te skryf moet die volgende stappe gevolg word:
U word versoek om die aanlyn AANSOEK OM TOELATING vir Hoërskool Waterkloof te voltooi.
Klik op die onderstaande skakel om die proses te begin:
- Registreer uself op die bladsy waarna u ‘n tydelike wagwoord per e-pos en per SMS sal ontvang om sodoende die res van die aanlyn aansoek te voltooi. Voltooi asseblief die aansoek volledig. Sodra u die aansoek aanlyn ingedien het sal u en die skool ‘n bevestigings e-pos ontvang.
- Die skool versoek u om asseblief die hardekopie (9 bladsye) uit te druk, te onderteken en saam met die versoekte dokumente (soos onder gelys) per afspraak in te handig by kantoor A6 voor die sluitingsdatum.
Die sluitingsdatum word deur die GDO bepaal. Ons sal u in kennis stel sodra ons die inligting vanaf die Departement ontvang.
Dokumente wat die aansoek moet vergesel:
- Afskrif van u kind se geboortesertifikaat;
- Afskrif van beide biologiese ouers se ID-dokumente;
- Nuutste rapport of vorderingsverslag;
- Bewys van adres;
- Administrasiegeld van R2 500. Die bedrag vorm deel van 2027 se skoolgeld en is ten volle terugbetaalbaar indien u kind nie by Kloof geplaas word nie. Indien u nie die bedrag betaal wanneer die aansoek ingehandig word nie sal dit nie u kind se aansoek benadeel nie, maar moet die verpligting afgehandel wees teen die sluitingsdatum vir die GDO-aansoeke.
- Bewys van registrasie op GDO se platform en waglysnommer (u kan dit later deurgee sodra die GDO-aansoekproses begin.
Let asb. daarop dat bogenoemde aanlyn aansoek nie verband hou met die GDO se aanlyn platform nie, en u ook daarop moet registreer sodra die platform open.
Omdat ons u besonderhede het as u die aanlyn aansoek voltooi en ingehandig het, sal ons met u kan kommunikeer sodra ons meer inligting vanaf die GDO ontvang.
Indien u enige hulp benodig kontak gerus vir me. Junel van Staden by finansies@klofies.co.za.
Ouers word slegs per afspraak op die skoolterrein toegelaat om die hardekopie aansoek om toelating en dokumente te kom inhandig
Hoe om ‘n afspraak te maak om die dokumentasie in te handig:
- Stuur ‘n e-pos aan finansies@klofies.co.za met u kind se naam en van asook die datum en tyd wat u graag die skool wil kom besoek om die inhandiging te kom doen.
- U sal per e-pos bevestiging ontvang of die datum en tyd geleë is.
- Ons kantoorure is:
Maandag – Donderdag: 08:00 – 13:00 en Vrydag 08:00 – 12:30
Ouers sal ‘n dag voor hul afspraak ‘n herinnering ontvang.
- U moet asseblief by die parkeerarea naaste aan die sporthek parkeer en by die sporthek aanmeld waarna u afspraak op die lys bevestig sal word.
Baie dankie vir u samewerking! Ons sien uit om u by die Kloof-familie te verwelkom!

