ETOS
Visie en Missie
Toonaangewend . Toekomsgerig. Revolusionêr.
Missie
- Daag die modern onderwys-ervaring uit.
- Transformeer die omgewing met innoverende strategieë, structure en fasiliteite.
- Laat ‘n unieke, jong volwassene die wêreld betree.
- Koester ‘n beginselvaste, geestelike grondslag.
- Om leerders te bemagtig om met innoverende denke revolutionêr te leef.
Waardes
Die RIL-effek
RESPEK
- Selfrespek
- Vir alle mense
- Vir die omgewing: natuur, skoolterrein, ander se eiendom
INTEGRITEIT
- Werk saam
- Is betrokke
LOJALITEIT
- Is eerlik en betroubaar
- Werk hard
KLEREDRAG
DOGTERS:
Somersdrag
- Romp Koningsblou, drupdroog.
- Bloes Blou, kortmou, poliëster-katoen.
- Skoene Swart standaard skoolskoene wat toeryg of met ‘n bandjie oor die brug van die voet.
- Kouse Kort wit sokkies omgevou.
- Oortrektrui Mouloos, dieselfde kleur as die romp met voorgeskrewe strepe in die V-hals. Geen langmoutruie word toegelaat nie. Matrieks dra ‘n wit oortrektrui, soos deur klereverskaffers voorsien.
Wintersdrag
- Romp Koningsblou, drupdroog.
- Bloese Blou, langmou, poliëster-katoen.
- Skoene Soos vir somer.
- Kouse Lang kouse — soos deur klereverskaffers voorsien.
- Baadjie [verpligtend] Enige amptelike skoolbaadjie.
- Das Voorgeskrewe blou skooldas/spesiale das.
- Trui Oortrektrui met V-hals. Slegs onder baadjie.
- Serp [Afmetings: 20cm x 160cm] Wit serp is toelaatbaar [sonder strepe].
LO-drag Slegs die Klofiebroekie en -hempie word skool toe gebring en aangetrek.
Sportdrag
Besonderhede van sportdrag soos deur die verskillende sportsoorte vereis word is by die Sportburo van die skool en die afrigters beskikbaar.
SEUNS:
Somersdrag
- Broek Blougrys langbroek of grys standaard kortbroek.
- Hemp Blou, kort- of langmou, poliëster-katoen.
- Skoene Swart toerygskoolskoene met standaard sooldikte. Geen
aanglipskoene nie. - Kouse Blougrys met strepe in omslag.
- Das Voorgeskrewe blou skooldas/spesiale das.
- Oortrektrui Moulose oortrektrui met V-hals [soos vir dogters]. Geen
langmoutruie word toegelaat sonder ‘n baadjie nie. - Gordel Swart of grys met ‘n normale grootte gespe.
Wintersdrag - Broek Blougrys langbroek [soos vir somer].
- Hemp Blou, langmou, poliëster-katoen.
- Das Voorgeskrewe blou skooldas/spesiale das.
- Baadjie [verpligtend] Soos vir dogters.
- Serp Wit serp [sonder strepe] is toelaatbaar – 20cm x 160cm.
LO-drag: Slegs die Klofiebroekie en hempie word skool toe gebring en aangetrek.
Sportdrag
Besonderhede van sportdrag soos deur die verskillende sportsoorte vereis word, is
by die klerewinkel van die Sportburo van die skool en die afrigters beskikbaar.
Algemeen
- ‘n Koningsblou Drimac-baadjie met skoolwapen mag slegs aangetrek word as dit reën. Dit is slegs by die klerewinkel van die Sportburo beskikbaar. ‘n Amptelike sportsak is by die klereverskaffers beskikbaar.
- Tydens formele funksies word ‘n langbroek en baadjie gedra.
Amptelike baadjies
- Blou baadjie met skoolwapen (Word vervang met die gestreepte baadjie)
- Blou baadjie met gestreepte omboorsel vir kleure (Word vervang met die gestreepte baadjie)
- Klofieraad: Erekleurebaadjie met wit hemp
- Slegs een balkie per aktiwiteit mag op die baadjie gewerk word.
- Slegs erkende lapelwapens wat deur die skool toegeken is, mag op die baadjie gedra word.
SKOOLREЁLS
Skooltye
Aanvang: 07:25 (Maandag – Vrydag)
Verdaag: 14:00 (Maandag – Vrydag)
Skoolterrein
Die skoolterrein word voor skool en tydens pouses deur die Klofieraadslede afgebaken. Die leerders mag nie in die klaskamers, by die fietsloods, die motors of motorfietse vertoef of speel nie.
Geen gevaarlike speletjies, stampery, bakleiery en afknouery word toegelaat nie. Geen leerder mag die skoolterrein gedurende skoolure sonder toestemming verlaat nie.
Skooldrag
Die voorgeskrewe skooldrag moet gedra word — selfs ná skool moet die leerders die uitnemende beeld van die skool uitdra. Tydens sportbyeenkomste moet slegs Hoërskool Waterkloof se sportdrag gedra word. Indien ‘n leerder op grond van skooldrag as ‘n Klofie geïdentifiseer kan word, geld alle reëls op die skoolterrein en die openbaar.
Voorkoms van leerders
Debietinskrywings word daagliks gegee tot die voorkoms reg is.
DOGTERS
Grimering: Geen grimering of permanente grimering word toegelaat nie.
Juwele: Geen hangertjies, tongringe, neusringe, armbande, haarrekkies om arms of rekke met enige inskripsie of ring word toegelaat nie.
Horlosies: Geen sierhorlosies met krale wat soos ‘n armband lyk nie.
Oorkrabbertjies: Slegs silwer of goud. Geen pêreltjies of steentjies nie. Knoppies met ‘n deursnee van tot 4 mm en ringetjies, sonder enige iets wat daaraan hang, waarvan die binnedeursnee nie 1 cm oorskry nie en die ringetjie nie dikker as 2mm is nie, mag gedra word. Slegs een oorkrabbertjie per oor net in die onderste gaatjie.
Naels: Die naels moet netjies en uniformvriendelik wees. Kleurlose naelversterking mag gedra word. Wanneer ‘n dogter haar hande vertikaal hou mag haar naels nie vanaf die palmkant gesien word nie. ’n Dogter moet trots wees op haar hande se voorkoms.
Hare: Die hare moet vasgemaak word as dit oor die onderste ronding van die hempskraag hang. Hare moet gekam word voordat dit vasgemaak word. Geen slierte mag voor die ore of van die kuif af, in die gesig, oor die wenkbroue hang nie. Alle knippies of hulpmiddels mag net in die kleur van die dogter se hare of wit wees.
Hare mag nie gekleur word nie.
Informele drag: Geen onderklere mag enigsins uitsteek of wys nie.
Baadjies: Die dogters se hempskrae moet netjies oor die baadjie se kraag gedra
word.
Tatoeëring/Graffiti op liggame: Geen.
SEUNS
Hare: Seuns moet aan die volgende voorskrifte vir hulle hare voldoen: Wanneer die hare afgekam word: kante mag nie oor die ore hang nie;
Voor: twee vingerbreedtes bokant wenkbroue;
Agter: paslike lengte: mag nie aan die kraag raak nie.
Geen “vreemde” of onkonvensionele haarstyle word toegelaat nie. Hare moet netjies gekam wees. Geen jel of iets soortgelyks mag gebruik word nie.
Baarde: Geen stoppelbaarde word toegelaat nie. Seuns moet ten alle tye gladgeskeer wees.
Wangbaarde: Wangbaarde mag nie laer as die middel van die oorgat gedra word nie en moet kort gesny wees.
Juwele: Ringe, oorbelle, tongringe, neusringe, armbande [rekkies of leer] en kettinkies word nie toegelaat nie. Dit sal gekonfiskeer word.
Tatoeëring/Graffiti op liggame: Geen
Gedrag
Daar word verwag dat leerders altyd goed gemanierd en hoflik sal optree teenoor mekaar, teenoor die personeel, teenoor besoekers en teenoor die publiek. Arrogansie en teëpratery sal nie geduld word nie; die reël geld ook op die sportveld. Vuilspel word nie geduld nie en word swaar gestraf.
Elektroniese apparaat
Die gebruik van elektroniese toebehore soos I-Pods en MP3’s, ens. en enige ander digitale apparaat maak inbreuk op die leeratmosfeer. Sodanige apparaat mag slegs buite skoolure gebruik word. ‘n W606 word ingevul nadat sulke apparaat gekonfiskeer is.
Selfoongebruik
‘n Selfoon mag nie tydens lestyd gebruik word nie. Indien wel, word die foon gekonfiskeer (die “sim”-kaart mag nie verwyder word nie) ‘n dokument word aan die leerder uitgereik, dit word volgens voorskrif in ‘n koevert geplaas en in die kluis gebêre. Die leerder kan die selfoon die volgende dag by die algemene kantoor gaan afhaal en die dokument wat deur ouers/voogde onderteken is, inhandig.
Beweging:
Voor skool
Leerders beweeg vroegtydig na die vierkant en wanneer die klok lui, word onmiddellik met die opening begin. Skooltasse moet by die voogklas geplaas word alvorens daar na die vierkant toe beweeg word.
Klaswisseling
Leerders beweeg flink en vinnig tydens klaswisseling. Daar word 5 minute toegelaat vir wisseling van leerders. Geen laatkommery word toegelaat nie.
Skaatsplanke
Geen skaatsplanke word op die terrein toegelaat nie, selfs nie oor naweke nie.
Verbode terrein voor skool en tydens pouses
Vanaf die fietsloodshek tot by die netbalbane mag geen leerder aan die westekant van die pad by die tennisbane wees nie, veral nie tussen die geparkeerde voertuie nie.
Die netbalbane, die wal noord van die netbalbane en die trappe is buite perke. Daar mag nie in groepies op die rugbyveld gesit word nie. Slegs leerders wat met spele besig is mag die suidelike helfte van die B- en C-rugbyveld gebruik.
Ander verbode terreine:
- Swembad
- Telbord, trappies en advertensieborde.
- A-rugbyveld, pawiljoene en agter pawiljoen
- Krieketklubhuis
- Tennisklubhuis, tennisbane en walle by tennisbane
- Hokkievelde
- Eerste en tweede verdieping, asook trappe
- Parkeerareas
- Walle noord van A-hokkieveld
- Alle klaskamers
- Dienswerkers se kwartiere
- Tussen voertuie
Kougom
Die kou van kougom is verbode.
Rook: E-rook en sigaret rook
Leerders wat rook, ondermyn hulle gesondheid en sal swaar gestraf word indien hulle betrap word. Leerders mag nie in besit wees van vuurhoutjies, aanstekers, sigarette, e-sigarette of engige ander rookmateriaal nie.
Tasse
Skooltasse moet van ‘n versterking voorsien wees – seilsakke word nie toegelaat nie. Niks behalwe die leerder se naam mag op die tas geskryf, geverf of geplak wees nie.
Motors en motorfietse
Slegs leerders met rybewyse mag die skool met ‘n motor of motorfiets besoek.
Leerders parkeer slegs binne met toestemming van ‘n adjunkhoof/visehoof.
Motorfietse moet op die afgebakende gebied wat daarvoor gereserveer is, parkeer word — ook ná skoolure. Onder geen omstandighede mag motorfietse op stoepe beweeg of parkeer word nie. Hoflikheid en versigtigheid is noodsaaklik.
Diefstal
Elke leerder moet alles in sy vermoë doen om behulpsaam te wees met die uitroei van hierdie euwel. Die skool kan ongelukkig nie aanspreeklik gehou word vir enige verliese nie. Alle kledingstukke moet duidelik gemerk word.
Vandalisme
Geen krappery op banke, mure of ander plekke word toegelaat nie. Ons versoek leerders om vandalisme te bekamp aangesien die infrastruktuur deur die ouers met skoolgelde onderhou word.
Toesluitkassies
Sluitkassies word op die Kloofbeursie betaal. Kostes beloop R160 vir ‘n gewone sluitkassie en R260 vir die huur van sportkassies.
Huur van die sluitkassie is slegs vir ‘n jaar.
Die bewys van betaling word aan die bestuurder gegee sodat die kassie toegeken kan word.
Dwelms/Drank
Enige leerder wat hom/haar skuldig maak aan die gebruik, misbruik, in besit van dwelms/alkohol op die skoolterrein en/of tydens enige amptelike uitstappie/toer/kamp/byeenkoms, sal voor ‘n dissiplinêre komitee van die skool
gedaag word en gestraf word volgens die skool se dissiplinêre kode. Volgens die Skolewet mag leerders vanaf Jan. 2009 volgens sekere voorskrifte getoets word vir die gebruik van dwelms.
Afwesigheid
Indien ‘n leerder afwesig is, sal die skool ‘n SMS aan die ouer stuur wat die afwesigheid bevestig. Afwesigheidsbriefies moet op die eerste dag wat die leerder weer die skool besoek, by die voogonderwyser ingehandig word. Na drie dae se
afwesigheid of afwesigheid tydens ‘n toets of eksamen, moet ‘n doktersertifikaat ingehandig word.
Periode-afwesigheid
Daar word tydens elke periode register gehou om periode-afwesigheid te kontroleer. Indien ‘n leerder nie in die klas is nie, word ‘n SMS aan die ouer gestuur om dieperiode- afwesigheid te bevestig.
Siekte tydens skoolure
Geen leerders mag van die publieke telefoon of ‘n selfoon af bel indien hy/sy siek word gedurende skoolure nie. Toestemming moet by die graadhoof verkry word en die sekretaresse sal die ouers skakel.
LEERDERS MOET DEUR OUERS BY DIE SPORTHEK AFGEHAAL EN UITGETEKEN WORD.
Afsprake gedurende skooltye
Leerders mag by die hoogste uitsondering toestemming kry om afsprake gedurende skooltye na te kom. ‘n Brief van die ouer /voog moet gedurende voogperiode aan die graadhoof gegee word om toestemming te verleen. ‘n Leerder moet voor sy/hy die skool verlaat, die toestemmingsbrief deur vakonderwysers laat teken en dit by ontvangs ingee. Ouers moet vooraf ‘n tyd met die kind afspreek en hom/haar by ontvangs uitteken. Geen leerder sal oor die interkom geroep word nie omdat dit onderrig steur. ‘n Leerder moet tot 10:00 by die skool wees om teenwoordig gemerk
te word.
Dra van onwettige juwele
Indien ‘n leerder skuldig is aan die dra van verbode juwele, word dit gekonfiskeer en ‘n debietvorm voltooi. ‘n Bewys word aan die leerder uitgereik. Dit word volgens voorskrif in ‘n koevert geplaas en by die kluis ingehandig en die leerder kan dit eers aan die einde van ‘n kwartaal by die algemene kantoor afhaal.
Algemeen
Die skool is ‘n geordende gemeenskap en tree gedissiplineerd op — dit is bevorderlik vir prestasie. Die beste dissipline is selfdissipline en daarom streef ons tot ons eie voordeel en tot voordeel van mekaar altyd daarna. Die samewerking van
elke leerder, ouer en onderwyser word versoek.
Teistering / pornografie / haatspraak / viktimisering
Leerders wat betrokke is by onwelvoeglike materiaal (in enige formaat) of gedrag wat aanstoot gee, sal swaar gestraf word.
SKOOLSIMBOLE
Erekode
As leerders van Hoërskool Waterkloof:
- bou ons in geloof op die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees met die wete dat Hy ons lewens rig en lei;
- eer ons ons taal, kultuur en tradisies, respekteer ons ons medemens;
- sal ons die beeld van ons skool lojaal uitdra;
- streef ons daarna om ons talente te ontwikkel;
- beloof ons om saam te bou in geloof.
- Die skoolwapen is ontwerp met die leuse as uitgangspunt en is by die Buro vir Heraldiek geregistreer en geniet dus wetlike beskerming. Dit beteken dat die besondere samestelling van kleure en simbole van ons wapen deur geen
ander instansie gebruik mag word nie. - Een van die onderskeidende kenmerke van ons wapen is die skildsoom in goud, een van ons skool se kleure.
- Die volgende onderskeidende kenmerke is die triquetra in wit, bestaande uit drie gevlegte halwe sirkels, een van die heraldiese simbole wat die Drie-Eenheid van God voorstel. Dit is ingesluit om “geloof” te versinnebeeld.
- Die laaste kenmerk is die sirkel in goud wat deur die triquetra vleg. Dit is ingesluit omdat die sirkel die simbool van volmaaktheid is en soos wat in die motivering van die leuse aangedui word, streef ons na uitnemendheid, want
“ons bou in geloof”.
Skoolleuse
“Ons bou in Geloof”
Die motivering van hierdie leuse is soos volg:
“Ons”
- Met “ons” word uitdrukking gegee aan die gemeenskaplike aanvaarding van verantwoordelikheid vir die hede en die toekoms en die gemeenskaplike taakstelling deur almal wat by die skool en al sy aktiwiteite betrokke is.
- Met “ons” word verder uitdrukking gegee aan die feit dat ons een geloof, hoop en liefde deel en dat ons gemeenskaplike verantwoordelikheid aanvaar vir die bouwerk wat gedoen moet word op alle terreine van die Christelik-nasionale volkslewe. In hierdie voorneme sien ons onsself en ons taak as deel van die groter geheel van die opbouwerk wat in ons vaderland gedoen word tot realisering van ons strewes en ons ideale.
“Bou”
Die sleutelwoord “bou” is omvattend met ‘n ryk inhoud wat alle fasette van sinvolle arbeid aandui.
Die woord “bou” gee vir ons uitdrukking aan:
- die gemeenskaplike positiewe aktiwiteit van die gemeenskap wat by die skool betrokke is, naamlik om te bou aan die gees, verstand en liggaam van ons skoolgaande jeug en daardeur aan ons volk;
- die feit dat ons voortdurend besig wil wees om sinvolle doelwitte na te streef wat tot voordeel strek van almal wat by die skool betrokke is, asook van die land en volk as geheel;
- die feit dat ons eerstens ewige waardes wil bou, maar ook stoflike dinge tot stand wil bring wat kosbare erfenisse vir die nageslag kan wees.
“In Geloof”
- Geloof dui vir ons geloof aan in die drie-enige God soos Hy Hom in sy Woord en in sy dade in die geskiedenis van volkere en ook van die Afrikanervolk openbaar. Deur te sê dat ons in geloof bou:
- Bely ons dat ons glo.
- Is ons dankbaar dat ons mag glo.
- Erken ons dat werk sonder geloof en geloof sonder werk vrugteloos is.
- Bely ons dat as God nie die bouwerk doen nie, ons bouwerk tevergeefs sal wees.
- Onderneem ons om aan God die eer te gee vir alles wat Hy deur ons tot stand mag bring.
Skoollied
Woorde: Prof. S.J. Pretorius
Musiek: Dirkie de Villiers
Hier op die kruising van die weë
is hoog ons skoolgebou geleë
waar ons die toekoms bou en sterk
vir enkeling en nasie werk.
Waar paaie kruis daar moet mens kies
die pad van wins of van verlies,
van bou of breek, van doen of laat,
van glo of vrees, van goed of kwaad.
Refrein:
Vas lê die fondament en trou
van die karakter wat ons bou,
die kennismure opgerig,
die vriendelike vensterlig,
die dak van diensbaarheid en plig:
geheel van hand en hart en hoof!
Ons bou in geloof!
ONS BOU IN GELOOF
Graadvaandels
Die hartklop van Hoërskool Waterkloof is gesetel in die ontwikkeling van ons leerders. Hierdie ontwikkeling word versinnebeeld deur ‘n saad wat in vrugdraende grond geplant word om sodoende te ontwikkel tot ‘n volwasse vrugdraende plant. Die groeiproses is afhanklik van ‘n geskikte medium, gebalanseerde voeding, genoegsame vog en optimum lig.

