FRANS TWEEDE ADDISIONELE TAAL

TOELATINGSVEREISTES

Entoesiasme en ‘n begeerte om ‘n wonderlike nuwe vaardigheid aan te leer is die enigste vereiste. Let wel dat leerders net Frans as vak in graad 10 mag neem as hulle dit in graad 8 en 9 geslaag het. Dit is ‘n universiteitstoelatingsvak.

BENADERINGSWYSE

Frans word volgens die direkte metode aangebied. Luister-, lees-, skryf- en mondelinge-vaardighede word ontwikkel, met spesiale klem op kommunikasie. Dit is moontlik om reeds in graad 11 vlot Frans te praat.

KURRIKULUM

In graad 8 en 9 word basiese strukture onderrig en ‘n basis vir mondelinge werk word vasgelê. In graad 10 tot 12 word taalleer, letterkunde, kreatiewe skryfwerk en mondelinge-vaardighede geïntegreerd onderrig. Die klem val op die voorbereiding van leerders om die Franse taal na matriek in die akademiese sowel as die professionele milieu te kan aanwend. ‘n Oorsig oor die Franse kultuur word ingesluit, asook ‘n fokus op aktuele aangeleenthede en sake van globale belang. Leerders lê in graad 12 die internasionaal-erkende eksamen van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) af. Let daarop dat hoër orde denke onder meer tydens hierdie eksamen getoets word.

Die onderrig van Frans in Suid-Afrikaanse skole word deur die Franse regering ondersteun deur middel van die plaaslike konsulaat en die Alliance francaise wat ook aan leerders die moontlikheid bied van studiebeurse na Frankryk in enige studierigting van hul keuse. Ter ondersteuning hiervan word leerders aangemoedig en voorberei om die DELF–eksamens van die Franse regering af te lê. Vanaf graad 10 word die opsie aangebied om die inter- nasionale DELF-eksamen af te lê. Met die slaag hiervan word ‘n internasionaal-erkende diploma aan die leerder uitgereik wat dien as hulpmiddel om met ‘n beurs in enige Frans-sprekende land te gaan studeer.

VAKAKTIWITEITE

Aktiwiteite en uitstappies sluit die volgende in: Uitstappies na Franse restaurante en cafés, die Franse Filmfees en ander kultuuraanbiedinge, skakeling met en besoeke aan die Alliance francaise se Dibuka-sentrum in Johannesburg en ‘n tweejaarlikse opvoedkundige toer na Frankryk (graad 10/11).

Verder word daar binne kringverband met ander skole wat ook Frans aanbied, geskakel en Franstalige kommunikasie tussen leerders word aangemoedig.

BEROEPSMOONTLIKHEDE

As derde wêreldtaal vanweë dominansie op akademiese, wetenskaplike, administratiewe en diplomatieke gebied en met toenemende globalisering, is Frans ‘n uitstekende taal vir leerders wat hul byvoorbeeld in die inligtingstegnologie, ingenieurswese, mediese of regsberoepe wil bekwaam. Vertaler, tolk, taaladviseur, onderwyser, toergids, sakepersoon, buitelandse inligtingsdiens, onderhandelaar in ondernemings, lugwaardin, kommunikasiebeampte en buitelandse handel is verdere velde en beroepe waar Frans beslis ‘n aanwins is.

NAVRAE

Scroll to Top